Die gat in die krans op Aasvoëlberg – die “Oog” – is seker een van Zastron se bekendste besienswaardighede. Dit is dus te verstane dat daar verskeie stories daaromtrent in omloop is.
Reynier se eerste ontmoeting met die duiwel was vanselfsprekend ook op Aasvoëlberg.
Op ‘n dag, toe hy ewe rustig langs sy huis sit en rook in die son, verbeel Reynier hom dat hy doenderweer hoor dreun. Hy kyk op in die lug en sien hoe dat die aasvoëls van die kranse af wegvlieg, kompleet asof hulle baie verbouereerd was.
Hy kyk nog so deur sy verkyker, toe word die donderweer se gedreun harder en die aarde onder hom raak aan die bewe. Dis toe dat hy deur sy verkyker sien dis al die tyd die duiwel wat in die skadu van ‘n groot rots lê en slaap. Dis sy gesnork wat soos donderweer dreun.
Reynier rol sy hempsmoue op en stap na die krans op die berg waar die duiwel lê en snork. Hoe verder hy teen die hange van Aasvoëlberg uitstap, hoe sterker word Reynier.
Toe hy by die duiwel kom waar uitgestrek op sy rug lê en slaap, skop hy die duiwel teen sy stert.
“Wat soek jy altemit hier op my grond, Mister?” vra Reynier met ‘n bulderende stem. Meteens hou die gesnork op en die aarde raak stil. Die duiwel kom stadig orent en terwyl Reynier hom boos aangeluur, sien hy die vrees in die duiwel se oë.
“Ek sê, wat soek jy dalk op my grond?! Herhaal Reynier sy vraag.
“Ek rus net ‘n bietjie, Oom Reynier,” sê die duiwel bang.
“ Kyk hoe verwilder jy die aasvoëls, die aarde bewe soos jy lê en snork. Sien jy hierdie vuis? As jy nie dadelik spore maak nie, slaan ek jou kop van jou lyf af!” sê Reynier.
Die duiwel wil nog teëpraat, toe swaai Reynier sy gebalde vuis in die rigting van die duiwel se kop. Die duiwel koes, en Reynier se gebalde vuis trek deur die groot rots op Aasvoëlsberg.
Dit was ‘n geweldige hou. Die duiwel het so groot geskrik vir Reynier se krag, dat hy dit nooit weer op Reynier se grond gewaag het nie!
“Sien jy daardie groot gat in die krans op Aasvoëlberg, Nefie? Dit was hierdie vuis se werk!” het Reynier trots vertel.
Die duiwel se kop
‘n Ander weergawe lui dat dit duiwel se kop is wat deur Reynier se “ sterk tabak” van sy lyf af geskiet is, wat die gat veroorsaak het.
Met ‘n bietjie verbeelding kan die duiwel en Reynier vandag nog gesien word waar hulle langs mekaar, links van die “ Oog” in die rotse versteen is!
Reynier se sterk tabak.
Reynier se ervaringe met die duiwel was menigvuldig en male sonder tal het hy die duiwel uitoorlê.
Op die een so ‘n dag laat Reynier sy skape suip by die rivier. Terwyl hy rustig op die oewer sit en rook, sien hy die duiwel in sy rigting aankom.
“Wat maak jy, Oom Reynier?” wil die duiwel weet.
“Ek rook” sê Reynier kortaf.
“Gee tog vir my ook ‘n stop van daardie lekker tabak?” vra die duiwel.
“Nou waar is jou pyp?” vra Reynier.
“Ek het nie een nie,” sê die duiwel.
“Nouja, hier is ‘n lekker lang pyp,” sê Reynier terwyl hy vir die geweerloop met ‘n sterk skoot kruit laai.
“Suig jy nou daar voor, ek sal hier agter vuurmaak” , sê Reynier. Toe die duiwel nog dink hy suig aan ‘n pyp, trek Reynier die skoot af. Met die afgaan van die skoot kom die duiwel daar doer op sy sitvlak te lande en sê spoeg-spoeg :
“Sjoe, Oom Reynier, maar jou twak is baie sterk!”