ZASTRON

Die Johanna biblioteek – ‘n monument op Zastron

biblioteekDit is die winter van 1933 – in die Buiteland heers die grootste depressie in mense heugnis – kruiwaens vol geldnote kon skaars ’n dosie vuurhoutjies koop.

Suid-Afrika het ook nie vrygespring nie. Werkloosheid was aan die orde van die dag – diegene wat nog werk gehad het, het ‘n paar uur voor hulle moes begin al opgedaag – te bang dat hulle hul werk sou verloor. Mense met universiteitsgrade het stasie peronne gevee, met pik en graaf op paaie en strate gewerk.

Met die boere gemeenskap het dit nog slegter gegaan. ‘n Droogte, seker die ergste in die geskiedenis, het die ekonomie nog verder lamgelê – geharde boere moes met traan gevulde oë die jammerlike geblêr van honger skape, die gebulk van beeste wat nie hulle dors kon les, aanhoor. Groot stofwolke het huise omhul, kerse is in die dag opgesteek om te kan sien. Boere moes in hierdie tyd die trekpad met hule diere aangedurf om te probeer red wat hulle kon. In meeste gevalle was dit egter tervergeefs – maer en honger diere het langs die trekpad bly lê. Mense het totaal uitgeboer. Dit was die begin van die groot trek na die Rand se goudmyne – per trein vir diegene wat nog ‘n paar pond oorgehad het – ander per fiets, selfs te voet. ‘n Land van armes het ontstaan.

Dit was in hierdie moeilike tyd dat daar ‘n sekere Mev. Johanna Christina Klopper ( gebore Snyman), voorheen getroud met wyle Petrus Johannes Swanepoel, van Zastron besluit het om ‘n gebou aan die publiek van die dorp te skenk. Die voorwaarde was dat dit as ‘n biblioteek gebruik moes word – ‘n geskenk vir die opbou van die kultuur van Zastron en sy mense. Die naam “Johanna Biblioteek” is aan die gebou met sy unieke bouvorm gegee.

In 1977 is die groot, modern nuwe biblioteek egter in gebruik geneem. Wat moes nou van die ou gebou word? Die destydse stadsraad het op ‘n raadsvergadering besluit dat die gelos moet word om te deterioreer wanneer dit dan as ‘n onooglike gebou gesloop kon word. Die voorsitter van die Afrikaanse Sakekamer, wie ook ‘n roodslid was, het gevra dat die gebou aan die Sakekamer geskenk moes word. Dit is toegestaan en die gebou is van sloping gered.

Vandag word die Johanna Biblioteek onder die toesig van die Histgoriese Geoue en Gedenkwaardighede Trust en die Toerisme Aksie van Zastron geleidelik in museum ingerig en sal binnekort vir toeriste oopgestel word. Een van Zastron se historiese geboue is vir die nageslag bewaar.

{gallery}Johanna Biblioteek{/gallery}