‘n Eerste poging om ‘n gemeente in Zastron te stig, vind plaas as ‘n petisie op 19 Oktober 1883 na die Rouxville gemeente gestuur word. Die debat duur voor tot 7 Februarie 1889 as besluit word dat dienste wel maandeliks gehou sou word en dat 'n kerkie opgerig moet word. Op 8 Februarie 1890 word die hoeksteen gelê van die kerkie op erf 23 en op 2 Oktober 1890 word die gebou aan die Boukommissie oorhandig!
Op 29 November 1893 word besluit dat volgens die bepalinge van die Kerkwet, die gemeente van Zastron as wettig gestig verklaar kan word.
Die nuwe kerkgebou word in 1906 ingewy, maar in 1912 afgebreek omdat die veels te klein was. ‘n Nuwe gebou word gebou soos dit vandag staan op die hoek van Lucas Majozi – en Mathey strate. Die inwyding vind plaas op 21 Januarie 1915.
Die Doopvont
Die doopvont is geskenk deur die Landdros Jacobus Albertus van der Wath en sy vrou Grace in 1911. Die skenking is gedoen uit dankbaarheid teenoor die Hemelse Vader dat ‘n langverwagte baba vir die egpaar gebore is. Met die doop van Cornelius (Cassie) van die Wath is die doopvont in gebruik geneem.
Bron: “Eeufees van die Nederduits Gereformeerde Gemeente Zastron OVS 1893 – 1993”